top of page

Benoudheid van die Nasies

  • Writer: Rita Egolf
    Rita Egolf
  • Jun 21
  • 8 min read
Eindtyd
“Val op ons en verberg ons vir die aangesig van Hom wat op die troon sit, en vir die toorn van die Lam; want die groot dag van sy toorn het gekom, en wie kan bestaan?” (Op. 6:16-17).

Opsomming: Die tekens wat Christus se koms voorafgaan, veroorsaak groot benoudheid onder die nasies.

Volgens die Bybel sal die wêreld in die eindtyd geweldig versleg – tot op die punt wanneer mense later alle hoop op oorlewing sal laat vaar. Die verslegtende toestande sal op alle lewensterreine ervaar word:


Ekonomiese ineenstorting


Groot ekonomiese ineenstortings sal plaasvind, wat wydverspreide armoede, hongersnood en ellende tot gevolg sal hê. Die klein groepie mense wat die geldmag beheer, sal sorg dat hulle en hul vriende nie verarm nie; daarom sal daar ‘n ekonomiese polarisasie plaasvind waarin die rykes ryker en die armes armer sal word.

Tydens die resessies en werkskaarste wat oral op aarde sal voorkom, sal werkers uitgebuit, onderbetaal en selfs van hul karige loon ontneem word (Jak. 5:4). Die rykes sal gevoelloos oor die lot van die armes wees, en ongesteurd met hulle weelderige en losbandige lewens voortgaan (Jak. 5:5-6).

In die onsekere ekonomiese tye sal mense na elke strooihalm gryp om hulle finansiële posisie te verbeter. In die proses sal hulle gewetenlose uitbuiters ten prooi val, wat desperate beleggers van hulle laaste spaargeld sal beroof. Hierdie skurke sal piramide-skemas en ander beleggingsmoontlikhede met baie hoë opbrengste aan naïewe en oningeligte beleggers bied om hulle van hul geld te beroof. Sodoende sal die armes nóg armer word en sal hulle laaste geld deur die toenemende aantal witboortjie-diewe gesteel word.

Van laasgenoemde soort diewe is die wêreld vol, en by uitnemendheid Afrika. Dit is ‘n bekende feit dat die grootste korrupsie en diefstal op dié kontinent voorkom. ‘n Swart Amerikaanse sosioloog het verskeie Afrika-regerings “kleptokrasieë” genoem, m.a.w. steelregerings. Kleptomanie is steelsug, wat op ‘n patologiese neiging dui om te steel. Elkeen kyk hoeveel hy kan steel terwyl hy toegang tot geld het. Dit maak nie saak watter fondse dit is nie, dit word gesteel – selfs ook geld wat deur oorsese kerke vir die armes en kinders gegee word, sal deur die administreerders van die fondse gesteel word.

Zimbabwe is ‘n voorbeeld van ‘n Afrika-land waarin omtrent die hele blanke boerdery-gemeenskap se plase deur die regering gesteel en hulle besittings deur terroriste en plunderaars geroof of verwoes is. In die proses kyk Brittanje eenkant toe en tree feitlik gladnie teen die skending van menseregte in sy voormalige kolonie op nie. Wanneer Brittanje en Amerika egter self deur terrorisme bedreig word, dan ontsien hulle geen koste om lande soos Irak, Joegoe-Slawië en Afghanistan militêr tot oorgawe te dwing nie.


Morele ineenstorting


Omdat die eindtydse mensdom ál hoe meer van God en sy Woord vervreemd raak, sal hy ook toenemend moreel afgestomp en verdorwe raak. Die Bybelse moraliteit word heeltemal verwerp, daarom is sondes soos homoseksualisme, die aanranding en seksuele molestering van kinders, hoerery, dronkenskap, dwelmverslawing, bedrog, leuens, moord en gewelddadigheid vir baie mense as ‘n lewenswyse heel aanvaarbaar.

Op 29 Junie vanjaar het sowat ‘n halfmiljoen mense aan die jaarlikse gay-parade deur die strate van Parys deelgeneem, met die stad se burgemeester vooraan. Een van die “mans” was soos ‘n blou engel opgemaak. Sy hele liggaam was potblou gekleur, en op sy kaal kop was ‘n hooftooisel wat van lang, blou vere gemaak is. In Duitsland is ‘n “liefdesfees” in die strate van ‘n stad gehou, waartydens byna-naaktheid, dwelmmisbruik en dronkenskap geseëvier het.

Bybelse morele standaarde is besig om finaal in die wêreld te verdwyn – behalwe onder klein groepies getroue Christene wat nie in bandeloosheid en permissiwiteit verval nie. Een van die uitdruklike tekens van die eindtyd is morele polarisasie:

"Wie onreg doen, laat hom nog meer onreg doen; en wie vuil is, laat hom nog vuiler word; en laat die regverdige nog regverdiger word, en laat die heilige nog heiliger word. En kyk, Ek kom gou, en my loon is by My, om elkeen te vergeld soos sy werk sal wees" (Op. 22:11-12).

Ons moenie saam met die wêreld verval en versleg nie, maar onberispelik en opreg wees, en skyn soos ligte te midde van ‘n krom en verdraaide geslag (Fil. 2:15).


Godsdienstige ineenstorting (Benoudheid Van die Nasies)


In die tradisioneel Christelike wêreld (die Weste) word God en sy Woord toenemend verwerp – in grondwette, in regerings, in onderwysstelsels en uiteindelik in die hele gemeenskap. Na aanleiding van die bestudering van Bybelse profesieë oor die eindtyd het Clarence Larkin in 1920 al in sy boek, Dispensational Truth, geskryf: “With the exception of a few who will repent and turn to God, the mass of the people will become more hardened and wicked than before.” Selfs baie van die Christene sal in hulle liefde teenoor die Here verkoel wanneer die ongeregtigheid en wetteloosheid toeneem (Matt. 24:12).

Ons leef nou in die tyd waarin mense oral hard, verdorwe en boos word soos in die dae van Noag en Lot. Selfs in ons eie land word God deur talle teoloë met die heidene se afgode gelykgestel, Jesus Christus se Godheid word ontken, die Bybel word nie as die geïnspireerde Woord van God aanvaar nie, en humanistiese vryhede van geloof en lewenstyl word oral aangemoedig.

Baie mense wat nog kerk toe gaan, raak by kultusse soos die sg. Toronto-Brownsville-Pensacola “herlewing” van lag en dronk word in die gees betrokke. Baie ander raak op enige denkbare wyse die pad byster. Volgens ‘n onlangse berig in Rapport het ‘n predikant van die Hervormde Kerk saam met ‘n honderd van sy lidmate bedank om ‘n nuwe “kerk” te stig. In die berig word gesê: “Een van die dinge wat tot dié eksodus aanleiding gegee het, is Louwtjie Meyer, voormalige leraar van die Florida gemeente van die Hervormde Kerk, se vermoë om mense met afgestorwe geliefdes in kontak te bring. Hy het bedank nadat hy deur ‘n mede-predikant van baie dinge aangekla is, onder meer dat hy met die dooies praat.”

Talle ander dwalings is besig om by kerke in te sluip waar mense hulle eerste liefde, Jesus Christus, verlaat het (Op. 2:4-5). Ons word duidelik in die Bybel teen hierdie eindtydse geestelike verval gewaarsku: “Maar die Gees sê uitdruklik dat in die laaste tye sommige van die geloof afvallig sal word en verleidende geeste en leringe van duiwels sal aanhang” (1 Tim. 4:1).


Stygende politieke en militêre spanning


Ten spyte van al die menslike pogings om eenheid en vrede deur onderhandeling en kompromie te skep, sal al die humanistiese vredespogings platval en tot groot oorloë en ellende lei: “Want wanneer hulle sê: Vrede en veiligheid – dan oorval ‘n skielike verderf hulle… en hulle sal sekerlik nie ontvlug nie” (1 Thess. 5:3). Die Here Jesus het oor die tyd vlak voor sy wederkoms gesê:

"En julle sal hoor van oorloë en gerugte van oorloë… Want die een nasie sal teen die ander opstaan en die een koninkryk teen die ander" (Matt. 24:6-7).


Toenemende natuurrampe


Die Here Jesus het ook oor die eindtyd gesê: “…en daar sal hongersnode wees en pessiektes en aardbewings op verskillende plekke” (Matt. 24:7). Die natuurlike hulp- bronne van die aarde sal onder die verhoogde druk, oorbenutting en besoedeling deur fabrieksgasse en afvalstowwe, waaronder ook kernafval, begin swig. Die see én varswaterbronne, asook die atmosfeer, sal erg besoedel raak, en in ‘n stadium menslike oorlewing op die planeet begin bedreig. Verskeie siekte-epidemies sal hierdeur veroorsaak word.

Hierbenewens sal die Here ook die kragte van die natuur skud om die mens op sy dolle vaart na die verderf te stuit. Verwoestende aardbewings, ‘n toename in vulkaniese uitbarstings, sons- en maansverduistering, en meteoriete wat die aarde tref, sal voorkom. Al hierdie dinge is as tekens bedoel om die mens op die einde van hierdie bedeling te wys, asook op die uitstorting van goddelike toorn oor die sondaars in die komende dag van die Here (die groot verdrukking):

"Kyk, die dag van die Here kom, verskriklik, met grimmigheid en toorngloed, om die aarde ‘n woesteny te maak en sy sondaars daaruit te verdelg. Want die sterre van die hemel en sy Orions sal hulle lig nie laat skyn nie; die son is duister by sy opgang, en die maan laat sy lig nie skyn nie. En Ek sal aan die wêreld sy boosheid besoek, en aan die goddelose hulle ongeregtigheid; en Ek sal die trots van die vermeteles laat ophou en die hoogmoed van tiranne verneder. En Ek sal sterweling skaarser maak as fyn goud, en mense as goud van Ofir" (Jes. 13:9-12).

"Die aarde word heeltemal leeg gemaak en heeltemal geplunder, want die Here het hierdie woord gespreek… Want die aarde is ontheilig onder sy bewoners… Daarom verteer die vloek die aarde en moet sy bewoners boet; daarom word die bewoners van die aarde deur ‘n gloed verteer en bly daar min mense oor… Die aarde word geheel en al verbreek, die aarde is geheel en al aan wankel, die aarde word geheel en al geskud" (Jes. 24:3-6, 19).

Wanneer die gerammel van die groot, apokaliptiese aardbewings in digbevolkte stedelike gebiede voorkom, infrastruktuurdienste verwoes en hoë geboue laat intuimel, sal mense paniekbevange na die berge vlug en tot die berge en rotse uitroep: “Val op ons en verberg ons vir die aangesig van Hom wat op die troon sit, en vir die toorn van die Lam; want die groot dag van sy toorn het gekom, en wie kan bestaan?” (Op. 6:16-17). Hulle sal weet dat die Here die mense oor hulle goddeloosheid straf, en tevergeefs van sy aangesig af probeer wegvlug.

Die Here Jesus het oor hierdie verskriklike tyd gesê:

"En daar sal tekens wees aan son en maan en sterre, en op die aarde benoudheid van nasies in hulle radeloosheid, wanneer see en branders dreun, en mense se harte beswyk van vrees en verwagting van die dinge wat oor die wêreld kom. Want die kragte van die hemele sal geskud word" (Luk. 21:25-26).

"Want dan sal daar groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie. En as daardie dae nie verkort was nie, sou geen vlees gered word nie" (Matt. 24:21-22).


Groot benoudheid vat reeds pos


Ons is nog net in die aanloop tot die komende verdrukking tydens die dag van die Here, en benoudheid, vrees en selfs paniek is reeds besig om in verskeie nasies pos te vat, bv. in Amerika, Israel, die Arabiese wêreld (veral Irak), Pakistan en Indië, in afwagting op groot rampe en oorloë wat in die nabye toekoms verwag word. Amerika beplan om Irak dalk vroeg volgende jaar in sy anti-terreur-oorlog in te val. As weerwraak verwag hulle misiel-aanvalle met chemiese, biologiese en selfs kernplofkoppe op Israel en verskeie Amerikaanse stede.

In voorbereiding op dié moontlikheid word toerusting vir tydelike stede nou aangekoop, sodat miljoene Amerikaners wat dalk uit die rampstede sal moet vlug, in reuse-tentdorpe gehuisves kan word. Tenders vir dié toerusting is vir Januarie 2003 toegeken.

Intussen word berig dat Iran op die vooraand van ‘n politieke en ideologiese ineenstorting is – in ‘n soortgelyke toestand as waarin die kommunistiese Sowjet-Unie in 1989 was. Die radikale Islamitiese regering van Iran weier egter om demokratiese hervormings in te stel, en berei hulleself eerder op oorlog voor.

Iran is van mening dat Amerika hulle ná Irak gaan aanval, en berei vir ‘n groot terreur-aanslag teen die VSA voor. Daar is sowat 800 000 Iranese in die VSA, en sommige van hulle kan vir bom-aanvalle teen Amerika gebruik word. Iran het ook deur Sirië duisende vuurpyle na die Hizboellah (Party van Allah) terroristegroep in Suid-Libanon gestuur om aanvalle op Israel te doen.

Daar word verwag dat wanneer ‘n Amerikaanse aanval op Irak gedoen word, of ‘n Irans/Irakse aanval op Amerika, die Hizboellah ook ‘n aanval op Israel sal doen. Al dié dinge laat die wêreld harder soek na ‘n vredevors wat ‘n dreigende derde wêreldoorlog deur onderhandeling en kompromie kan afweer. Dit sal die Antichris wees, wat as die eindtydse “koning van die noorde” waarskynlik in Irak sal verrys. Hy sal vir een week (van 7 jaar) ‘n sterk verbond met baie nasies sluit (Dan. 9:27). Dan sal sy teëhouer (die ware kerk as die tempel van die Heilige Gees) reeds weg wees (2 Thess. 2:6-10).



As gevolg van Christus is die dood nie finaal nie. Dit is 'n oorgang van een wêreld na die volgende. --R C Sproul

1 Comment

Rated 0 out of 5 stars.
No ratings yet

Add a rating
Nita.kearney
Jun 21

Skrikwekkend maar tog die waarheid as skram mense weg daarvan dit is opgeteken in die Bybel en dit is al besig om te gebeur. Mag God ons genadig wees!

Like
Multi choice subscription

© 2025 deur Ponderings. Alle regte voorbehou.

Privaatheidsbeleid

bottom of page