Valse Christene
- Rita Egolf
- 1 day ago
- 5 min read

“As iemand die woord van die koninkryk hoor en nie verstaan nie, kom die Bose en roof wat in sy hart gesaai is – dit is hy by wie langs die pad gesaai is” (Matt. 13:19).
Die toestand van ‘n mens se hart beskryf die aard van jou geestelike lewe en morele beginsels. Die hart is die sentrum van jou gees en siel, en dus bepalend vir jou wil, emosies en denkwyse. Jou hart is óf ‘n woonplek vir God óf ‘n woonplek vir Satan.
‘n Christen se hart is deur die Here gereinig, nuut gemaak en tot ‘n woning vir Homself omskep. Hierdie persoon het die Here lief omdat Hy sy sonde vergewe en sy siel gered het. Jesus sê: “As iemand My liefhet, sal hy my woord bewaar, en my Vader sal Hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woning maak” (Joh. 14:23). Wanneer jou hart ‘n tempel van God is waarin die Heilige Gees woon, dan is Christus deur sy Gees in beheer van jou lewe en wys die weg aan wat jy moet bewandel. Hy gee aan jou krag om Hom te kan dien en ook om die Bose wat jou steeds sal versoek, te oorwin.
Die onweergebore hart is ‘n setel van die mens se gevalle, sonde-geneigde natuur. Dit is ook ‘n woonplek vir die duiwel omdat hy jou inherente, sondige neigings verder aanblaas. Diep uit jou verdorwe hart waarmee jy gebore is, kom sondige gedagtes na vore wat jou voete op verkeerde paaie rig: “Bedrieglik is die hart bo alle dinge, ja, verdorwe is dit: wie kan dit ken? Ek, die Here, deursoek die hart…” (Jer. 17:9-10). Net die Here kan jou hart deursoek en deur die Heilige Gees ‘n oortuiging van sonde by jou skep, sodat jy jou sondes kan ken en jou verlore toestand voor Hom besef. Indien jy jou vertroue in die Here Jesus as jou Verlosser stel en al jou sonde bely en laat staan, sal Hy jou vergewe, jou aanneem en jou hart reinig.
‘n Hart wat deur die Here nuut gemaak is, moet sy volle potensiaal as ‘n tempel van God bereik en oorvloedige vrug dra vir die ewige lewe. Sommige mense laat tot hulle eie skade en skande na om aan die eise van dissipelskap te voldoen en die Here te vertrou om hulle met sy Heilige Gees te vervul. Ná ons inisiële heiligmaking by redding wil die Here ons ook volkome heilig maak sodat ons gees, siel én liggaam onberispelik voor Hom kan wandel (1 Thess. 5:23-24). Indien ons sou nalaat om hierdie noodsaaklike geestelike toerusting met krag uit die hoogte te verkry, is struikeling, val en opstaan, kompromie met die wêreld en geestelike veragtering ons voorland. Dan sal ons nie voorspoedig wees en vrug dra wat by die bekering pas nie, maar tot oneer van die Here ‘n dubbelhartige lewe lei.
Die probleme waarheen só ‘n marginale en onvolkome hartstoestand lei, is ernstig en soms vernietigend van aard. Verskillende vorms van geestelike veragtering en oneerbare optrede kan hieruit voortvloei. Dit sluit ‘n hele reeks toestande in wat van valse bekerings af deur verskillende vorms van geestelike veragtering strek tot by totale rebellie deur persone wat die pad van die Here verlaat en die rug daarop gedraai het. Dit is vir elkeen van ons nodig om ons hart te ken sodat ons, soos die verlore seun, betyds tot besinning kan kom indien ons dalk die vaderhuis verlaat en deur sonde vasgevang is. (Valse Christene)
1. Die onrein, verharde hart
Dit is ‘n beskrywing van ‘n hart waarin die Woord van die Here nie ingang vind nie. In die gelykenis van die saaier lees ons dat ‘n deel van die saad langs (en op) die pad geval het waar die grond hardgetrap was. Hierdie saad is deur die voëls opgepik (Matt. 13:4). Vir die ongeredde mens is die Woord van God dwaasheid, daarom aanvaar hy dit nie en verwerp dit. Die duiwel help hom ook om dit gou te vergeet: “As iemand die woord van die koninkryk hoor en nie verstaan nie, kom die Bose en roof wat in sy hart gesaai is – dit is hy by wie langs die pad gesaai is” (Matt. 13:19).
Die onreinheid van ‘n verlore mens kom diep uit sy hart waarin sy gevalle natuur gesetel is: “Wat uit die mens uitgaan, dit maak die mens onrein. Want van binne uit die hart van die mense, kom die slegte gedagtes, egbreuk, hoerery, moord, diewery, hebsug, boosheid, bedrog, losbandigheid, afguns, lastering, hoogmoed, dwaasheid. Al hierdie booshede kom van binne uit en maak die mens onrein” (Mark. 7:20-23).
As gevolg van die mens se vrye wil het hy die vermoë om sy hart te verhard en sodoende die Heilige Gees wat hom van sy sonde en verlorenheid wil oortuig, te weerstaan (Hand. 7:51). Dit is waarom Paulus sê: “Vandag as julle sy stem hoor, verhard julle harte nie” (Heb. 3:7). Die psalmis sê: “Ag, as julle vandag maar na sy stem wou luister” (Ps. 95:7). Ons moet sagmoedig wees as ons God se Woord wil ontvang. Dit beteken dat ons ‘n leerbare en ontvanklike gees moet hê. Jakobus sê: Ontvang met sagmoedigheid die ingeplante woord, wat in staat is om julle siele te red” (Jak. 1:21).
‘n Harde hart is nie net kenmerkend van ’n ongeredde sondaar nie, maar ook van ‘n terug gevalle persoon. Sonde maak ‘n mens hard en ongenaakbaar, en dus ook afgestomp vir die Woord van God. Jy ignoreer dit, versit jouself daarteen en verwerp dit. Later verloor jy alle sensitiwiteit vir sonde en pla dit jou glad nie meer as jy in sonde leef nie. Hoe verder jy terugval, hoe harder en dikvel liger word jy. Om dié rede moet ‘n Christen wat weer doelbewus begin sondig, in ‘n vroeë stadium, en ook so duidelik as moontlik, teen die gevolge van sonde gewaarsku word: “Vermaan mekaar elke dag, so lank as dit vandag genoem word, sodat niemand van julle deur die verleiding van die sonde verhard word nie” (Heb. 3:13). Hierdie sondes waarin mense vasgevang raak, maak hulle harte onrein en hard.
Lees die hele oorspronklike artikel H I E R
2. Die selfregverdigende hart (Valse Christene)
3. Die onvervulde, vleeslike hart
4. Die onvrugbare hart
5. Die verdeelde hart
6. Die twyfelende hart
7. Die ongelowige hart
8. Die verleide hart
9. Die misleide hart
10. Die onheilige hart
11. Die rebelse hart
12. Die verraaiers hart
Die gereinigde, Geesvervulde hart

Ware Christene kan radikale en ernstige terugvalle hê, maar nooit 'n totale en finale terugval van genade nie. --R C Sproul
Comments