Om te Wag ….
- Rita Egolf
- Sep 16
- 2 min read

Johannes 11:17 Met sy aankoms het Jesus gevind dat Lasarus reeds vier dae in die graf was.
Johannes 11:17-22 Toe Jesus dan gekom het, het Hy gevind dat hy al vier dae in die graf was. En Betánië was naby Jerusalem, omtrent twee myl daarvandaan. En baie van die Jode het al by Martha en Maria gekom om hulle oor hul broer te troos. En toe Martha hoor dat Jesus kom, het sy Hom tegemoetgegaan. Maar Maria het in die huis bly sit. Martha sê vir Jesus: Here, as U hier gewees het, sou my broer nie gesterf het nie. Maar selfs nou weet ek dat alles wat U van God vra, God U sal gee.
God se tyd is nie ons tyd nie….hoeveel keer het ons al daardie woorde gehoor. Dit is gewoonlik te midde van ‘n krisis in ons lewe! N Tyd wanneer ons antwoorde soek en die minute ure word en die ure dae of maande…of heel moontlik jare! Ken jy ook daardie tye?
Hierdie tye is wanneer ons geloof getoets word teen die tydsberekening van ons God! Dit is wanneer ons wonder of ons reg bid, of miskien wonder of ons werklik kinders van God is, of Hy werklik ons gebede hoor?
Ons moet aanvaar dat Tyd en Tye in Sy Hande is! Hy sal niks laat gebeur voor dit nie deur Hom gebeur nie! Jy, as kind van God moet besef dat Sy tyd volkome is vir ons en dat niks wat ons doen dit sal verander nie!
Met alles wat gebeur het Hy ‘n doel, hoe moeilik dit ook al is om te verstaan! Met Lazarus het Hy geweet dat deur nie onmiddellik te reageer op die boodskap van sy siekte nie, dat Sy tyd om te arriveer, deur Hom bepaal is en een van Sy grootste wonderwerke gebeur met die opstanding van Lazarus! Dit het vele laat besef wie Hy werklik is en Sy Koninkryk is daardeur vermeerder tot Sy Eer! Sy tyd!
Staan jy vandag hulpeloos voor die siekbed van ‘n dierbare? Het jy al lank gesmeek en gebid voor God maar die siekte deur voort? Dit is in hierdie tye dat ons moet ‘laat gaan’ en aanvaar dat Hy in beheer is. Dit is Sy tyd en jy kan niks verander nie. Dit is nie harder bid of meer mense kry om te bid nie…nee, dit is bloot ‘laat gaan en laat God toe om God te wees’ in alle omstandighede. Dit maak nie saak hoe swaar dit is nie, onthou, Hy het ons lewe in Sy Hand, Hy het ons geroep en Hy het ‘n tyd vir elkeen van ons vooraf bepaal! Niks sal met ons gebeur voor daardie tyd, deur Hom bepaal, nie aanbreek nie! Berus daarby!
Die beste om te doen ten tye van hierdie ‘wag’ tydperk is om God te begin eer vir Sy Grootheid, vir Sy Mag en vir Sy teenwoordigheid in jou lewe en die van jou dierbare. Loof Hom met alles in jou mag en Sy kalmte sal oor jou kom en ‘ vrede vir jou gee wat alleenlik Hy kan doen!
Coram Deo

Comments