Die Pad van die Here
- Rita Egolf
- Jun 22
- 11 min read

Job 28:7-8 sê daar is “’n pad wat die roofvoël nie ken nie, en die oog van die valk het dit nie gespeur nie; waar die trotse roofdiere nie op trap nie, waar die leeu nie oor stap nie.“
“Terwyl die pad van die regverdiges is soos die lig van die môreglans, wat al helderder word tot die volle dag toe, is die weg van die goddelose soos duisternis: hulle weet nie waaroor hulle sal struikel nie” (Spr. 4:18-19). Die pad van die regverdiges is die pad van die lewe. Die Here Jesus het hierdie nuwe en lewende weg vir ons deur sy kruisdood geopen, en nooi ons daarheen. Hoe word ons op hierdie pad geplaas? Dit begin by ons wedergeboorte, en terwyl ons geestelik groei word die pad al hoe helderder tot die volle dag. By die eindbestemming van die pad sal ons vir ewig in die volle lig van die Here se heerlike teenwoordigheid in die hemel wees. Nie alle mense vind egter hierdie pad nie, daarom verkeer hulle nog in geestelike duisternis en stuur op die ewige dood af. Wie is die gelukkiges wat hierdie wonderlike pad van die lewe ontdek het, wat deur die meeste mense glad nie geken word nie?
Job 28:7-8 sê daar is “’n pad wat die roofvoël nie ken nie, en die oog van die valk het dit nie gespeur nie; waar die trotse roofdiere nie op trap nie, waar die leeu nie oor stap nie.“ Waar is hierdie baie besondere pad? Die meeste mense soek na die pad wat na ware geluk in die lewe lei, maar vind dit nie. In die proses beland hulle op dwaalweë, want “daar is ‘n weg wat vir die mens reg lyk, maar die einde daarvan is weë van die dood” (Spr. 14:12). Die pad wat uit ‘n menslike oogpunt reg lyk, is die pad van selfmisleiding en selfregverdiging. Jy dink dat as jy net ‘n goeie lewe lei en kerk toe gaan, sal jy hemel toe gaan. Sonder Jesus Christus is alle menslike pogings egter tevergeefs, want die Bybel sê dat selfs ons beste werke soos ‘n besoedelde kleed is (Jes. 64:6). Dit kan ons nie red nie.
Hoe sal ons dan die ware pad van die lewe vind, hierdie pad wat die arende en valke met hulle goeie oë glad nie kan sien nie, en waar selfs ‘n leeu wat vreesloos is, nie op kan loop nie? In Psalm 16:11 het koning Dawid in ‘n lied vir Here gesê: “U sal my die pad van die lewe bekend maak; versadiging van vreugde is voor u aangesig, lieflikhede in u regterhand, vir ewig.” Net Hy kan hierdie pad aan ons bekend maak. Op dié pad ontvang ons oorvloedige geestelike seëninge uit die hand van die Here, en sy blydskap vervul ons harte. Hoe bevoorreg is ons nie om hierdie pad in die Nuwe Testament te ken nie! Dié pad is ‘n Persoon, Jesus Christus. Hy het gesê: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie” (Joh. 14:6).
Kom ons kyk na ‘n paar eienskappe van die pad van die Here wat na ewige heerlikheid lei:
1. Dit is die pad van die lewe in Christus. Die Here Jesus is self die poort waardeur ons moet gaan om op hierdie pad te kom. Hy het gesê: “Ek is die deur; as iemand deur my ingaan, sal hy gered word” (Joh. 10:9). Hierna volg daar ‘n daaglikse wandel met Christus op die nuwe en lewende weg waarop Hy ons geplaas het. Ons moet in Hom bly, want Hy het gesê: “Bly in My, soos Ek in julle” (Joh. 15:4). Op hierdie pad word die dinge van die wêreld nietig en klein, omdat dit die hoofdoelwit van ons lewe is om die lof te verkondig van Hom wat ons uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig. Ons moet eiebelang en wêreldse begeerlikhede afsterf, sodat daar meer plek en tyd vir die dinge van die Here in ons lewe kan wees. Deur sy Heilige Gees is die Here Jesus elke dag ons Leidsman op die pad van die regverdiges. Hy het vir sy dissipels gesê: “Kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld” (Matt. 28:20). Volg jy die Here Jesus elke dag van jou lewe, en ervaar jy sy teenwoordigheid en seënende regterhand wat oor sy getroue dissipels uitgestrek is? As jy van die Here af wegdwaal, sal sy seën nie op jou lewe rus nie.
2. Dit is ‘n eensame en smal paadjie. Jesus het gesê: “Gaan in deur die nou poort, want breed is die poort en wyd is die pad wat na die verderf lei, en daar is baie wat daardeur ingaan. Want die poort is nou en die pad is smal wat na die lewe lei, en daar is min wat dit vind” (Matt. 7:13-14). Daar is baie mense wat probeer om op die smal pad van die Here te kom, maar nie daarin slaag nie. Sommiges dink hulle is op dié pad, maar hulle is nie. Die Here Jesus sê: “Stry hard om in te gaan deur die nou poort, want baie, sê Ek vir julle, sal probeer om in te gaan en sal nie in staat wees nie” (Luk. 13:24). Ons moet laag buig en heeltemal met die ou lewe breek as ons deur hierdie poort wil ingaan. Die Here deel nie jou lewe met die wêreld en die sonde nie. ‘n Halfhartige bekering werk nooit uit nie. “Hy wat sy oortredinge bedek, sal nie voorspoedig wees nie; maar hy wat dit bely en laat staan, sal barmhartigheid vind” (Spr. 28:13). Baie kerkmense dink hulle is op hierdie pad, dan is hulle nog nie. Jesaja sê: “Ons het almal gedwaal soos skape, ons het elkeen sy eie pad geloop, maar die Here het die ongeregtigheid van ons almal op [sy Kneg] laat neerkom” (Jes. 53:6). Net Hy kan deur die wedergeboorte van ons nuwe mense en ware volgelinge van Hom maak. Die meeste mense wil egter nie ‘n radikale verandering maak nie. Hulle wil net ‘n kleed van uiterlike godsdienstigheid aantrek en dan met hulle eie lewe op die breë pad voortgaan. Dit is die rede waarom die smal pad beslis nie die populêre pad is nie, selfs nie in die tradisioneel Christelike wêreld nie, daarom is dit meesal ‘n eensame pad waarop daar min mense is wat jou getuienis en oortuigings met jou deel. Daar is baie godsdiens in die wêreld, maar min ware geloof. Dit is die rede waarom daar min mense is wat die Woord van die Here suiwer en sonder bymotiewe verkondig. Dit is ‘n smal paadjie hierdie. Die Here vereis van sy dissipels ‘n eng en heilige lewenswyse – nie ‘n permissiewe lewe soos op die breë pad, waar jy kan doen net wat jy wil nie.
3. Dit is ‘n pad waarop die Bybel jou besluite en die koers van jou lewe bepaal. Die Here het vir Josua gesê dat hy van die woorde van God nie links of regs mag afwyk nie, sodat hy met goeie gevolg kan handel oral waar hy gaan (Jos. 1:7). Dieselfde reël geld vir ons: “Waarmee sal die jongeling sy pad suiwer hou? Deur dit te hou na u Woord” (Ps. 119:9). Dit moet die rigsnoer van ons lewe wees, sodat ons saam met die psalmis kan sê: “Ek het u Woord in my hart gebêre dat ek teen U nie sal sondig nie,” en ook: “Ek het my voete teruggehou van elke verkeerde pad, dat ek u Woord kan bewaar.” Slegs dan kan ons sê: “U Woord is ‘n lamp vir my voet en ‘n lig vir my pad” (Ps. 119:11,101,105). Let daarop dat dit nie menslik geformuleerde tradisies en belydenisskrifte is wat die rigsnoer van ons lewe moet wees nie, maar suiwer en alleen net die lewende Woord van God. Mense kyk so dikwels deur die bril van hulle eie leerstellige voorkeure na die Bybel en neem daaruit net dit wat hulle pas. Op die ou end verkondig hulle gebooie van mense, wat geen saligheidswaarde het nie (Mark. 7:6-9,13). Op die pad van die Here moet ons verlang na die “onvervalste melk van die Woord, dat ons daardeur kan opgroei” (1 Pet. 2:2). Hierdie Woord is lewend en kragtig en skerper as enige tweesnydende swaard, en dring deur tot diep in ons harte waar dit ons help om onderskeid tussen die waarheid van God en die leuens van Satan te kan tref. Hou jy nog reguit koers volgens die voorskrifte van die Woord, of het jy dalk al daarvan afgewyk en ‘n navolger van mense geword?
4. Dit is ‘n wedloop met die oog op geestelike oorwinning. “Laat ons ook elke las aflê en die sonde wat ons so maklik omring, en met volharding die wedloop loop wat voor ons lê, die oog gevestig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof” (Heb. 12:1-2). Dit is ‘n doelgerigte wedloop: ek moet presies weet waarheen ek op pad is, sodat ek as ‘n oorwinnaar wat sy taak op aarde suksesvol afgehandel het, voor die Here Jesus kan verskyn. Paulus het gesê: “Ek hardloop dan soos een wat nie onseker is nie... maar ek kasty my liggaam en maak dit diensbaar, dat ek nie miskien, terwyl ek vir ander gespreek het, self verwerplik sou wees nie” (1 Kor. 9:26-27). Dit is ook ‘n wedloop waarin ek alle sondes en hindernisse moet aflê. Terwyl ons ‘n vleeslike liggaam met sy vyf sintuie het, is ons steeds oop vir versoekings en invloede van die wêreld af. Dit is maklik om weer te sondig, daarom moet ons teen dit waak. Paulus praat van die sonde wat ons so maklik omring. Amper ongesiens raak jy weer deur sonde verstrik, en dan struikel en val jy in die wedloop. Dit mag wees dat daar ander hindernisse is wat jou vordering vertraag, wat self nie sonde is nie, maar wat neig om al jou tyd, aandag en geld in beslag neem sodat jy nie vry is om die Here voluit te dien nie. Hierdie dinge, bv, ‘n oormatige toewyding aan jou werk, jou sport of aan ‘n stokperdjie, kan veroorsaak dat die Here uit jou lewe geskakel word en dat jy later net lippediens aan Hom bewys. Dan gaan jy in die geestelike wedloop ‘n verloorder wees. Dit is ook ‘n wedloop teen tyd. Elke mens het net beperkte tyd om sy taak wat die Here aan Hom opdra, uit te voer. Ons lewe is soos ‘n nagwaak, en soos die dag van gister as dit vinnig verbyskiet. As ons weer sien, is dit alles verby. “Die mens is soos nietigheid; sy dae is soos ‘n vlugtige skaduwee” (Ps. 144:4). Vriende, sorg dat hierdie kort aardse lewe van jou nie ‘n sinnelose gejaag na verganklike aardse dinge is nie. Tel jou dae só dat jy ‘n wyse hart mag bekom (Ps. 90:12). Dit beteken dat jy die tyd moet uitkoop om die Here te dien, want die dae is boos. Sorg dat jy in hierdie wedloop nie al jou tyd op aardse dinge bestee nie, want dan sal jy geestelik stagneer en van die Here se pad af wegdwaal.
5. Dit is ‘n pad van harde werk. Alle Christene het ‘n opdrag om vir die Here te werk totdat Hy kom. Ongelukkig is daar baie Christene wat by Efésiërs 2:8-9 volstaan, naamlik dat ons uit geloof gered word sonder werke, en dan sit hulle terug en doen niks verder nie. Ons moet egter Efésiërs 2:10 ook lees, waarin ons ná ons bekering tot diensbaarheid aangespoor word: “Want ons is sy maaksel, geskape in Christus Jesus tot goeie werke wat God voorberei het, sodat ons daarin kan wandel.” Het jy al duidelikheid gekry oor die werke wat God vir jou in Christus voorberei het, en wandel jy daarin, m.a.w. loop jy op hierdie pad van diensbaarheid aan die Here. Baie Christene doen dit nie en sal eendag met leë hande voor die Here staan, gered asof deur vuur heen (1 Kor. 3:11-15). Hulle sal met allerlei verskonings kom waarom hulle die talente wat die Here aan hulle gegee het, in ‘n doekie toegedraai en begrawe het. Wil jy as ‘n slegte en luie dienskneg beskou word wat hom nie vir die uitbreiding van die Here se koninkryk beywer het nie? (Luk. 19:20-23). Indien nie, dan moet jy jou talente, tyd en geld ook in die diens van die Here gebruik. Die Here Jesus sê: “Kyk, Ek kom gou, en my loon is by My, om elkeen te vergeld soos sy werk sal wees” (Op. 22:12). Hoe lyk jou lewenswandel en werke – het dit ewigheidswaarde?
6. Dit is ‘n pad van verwerping, vervolging en lyding. Ons is navolgers van die verwerpte en gekruisigde Here Jesus. Hy was nie in hierdie wêreld en in die strukture van hierdie wêreld welkom nie, en het ons gewaarsku dat ons dieselfde behandeling moet verwag. Hy het gesê: “As die wêreld julle haat, moet julle weet dat hy my voor julle gehaat het. As julle van die wêreld was, sou die wêreld sy eiendom liefhê. Maar omdat julle nie van die wêreld is nie... daarom haat die wêreld julle” (Joh. 15:18-19). “Ons moet deur baie verdrukkinge in die koninkryk van God ingaan” (Hand. 14:22). In die lig hiervan sê Paulus vir Timótheüs: “Ly dan verdrukking soos ‘n goeie krygsman van Jesus Christus” (2 Tim. 2:3). Vir die Filippense sê Paulus dat dit genadiglik aan ons gegee is om nie alleen in Christus te glo nie, maar ook vir Hom te ly (Fil. 1:29). Ons is in vyandelike gebied, in ‘n goddelose wêreld wat in die mag van die Bose lê (1 Joh. 5:19; Gal. 1:4). Dit is waarom ons ‘n geestelike wapenrusting moet aantrek sodat ons staande kan bly teen die liste van die duiwel (Ef. 6:10-12). Die Here sê Hy laat ook beproewings en lyding oor ons toe, “sodat ons sy heiligheid deelagtig kan word” (Heb. 12:5-11). Dit is wanneer ons swaarkry, dat ons ware karakter na vore kom en ons vertroue in die Here versterk word. As dit dan so ‘n goeie leerskool is, dan het ons beproewings nodig! Die psalmis sê: “Voordat ek verdruk was, het ek gedwaal; maar nou onderhou ek u Woord... Dit is goed vir my dat ek verdruk was, sodat ek u insettinge sou leer” (Ps. 119:67,71). Vir die regverdige word uitredding of krag tot berusting om sy kruis te kan dra, gewaarborg: “Menigvuldig is die teëspoede van die regverdige, maar uit dié almal red die Here hom” (Ps. 34:20). Selfs ten spyte van die grootste teëspoed, droefheid of aanslae op ons, moet ons altyd geestelik bokant ons omstandighede kan uitstyg en ons in die Here verbly. Kan jy van hierdie oorwinning getuig en steeds die vrugte van die Gees dra, of word jy dalk deur die sorge van die lewe afgetrek en ontmoedig? As jy volhard en nie aan die vyand se aanslae en negatiewe suggesties toegee nie, sal die Here die beproewinge vir jou in ‘n seën verander. Hy sal aan jou soveel blydskap en krag tot oorwinning gee dat ‘n totale negatiewe ervaring vir jou in ‘n bron van ryke seën en geestelike opbouing omskep sal word. Op hierdie pad van vele aanslae is die Here Jesus altyd baie naby, soos Hy ook by sy dissipels in die boot was die nag toe die storm oor die see opgesteek het. Hy is altyd daar om jou uit te red, te beskut en na ‘n plek van veiligheid te lei. Dawid het gesê: “By U, o Here, skuil ek... Neig U oor tot my, red my gou... want U is my rots en my bergvesting” (Ps. 31:2-4). Eendag sal al die stryd en aanvegtinge verby wees: “En God sal al die trane van hulle oë afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie, want die eerste dinge het verbygegaan” (Op. 21:4).
7. Dit is ‘n pad waarop ons ‘n hemelse roeping het. Omdat ons vir seker weet dat ons na die hemel toe op pad is, verlang ons dikwels om so gou as moontlik daar uit te kom. Ons is nie aan die wêreld en sy begeerlikhede vas nie, en sal maklik hier afskeid neem sonder om, soos Lot se vrou, om te kyk en te wonder wat van al ons aardse besittings gaan word. Paulus het gesê hy verlang om heen te gaan en by Christus te wees, want dit sal vir hom verreweg die beste wees (Fil. 1:23). Hy sê ook dat ons aardse tentwoning, dit is hierdie verganklike liggaam, afgebreek sal word sodat ons met ons woning uit die hemel, dit is ‘n verheerlikte liggaam, oorklee kan word (2 Kor. 5:1-2). Die dood het dus sy verskrikking verloor omdat die sterwe, met die oog op die ewige lewe in die hemel, in werklikheid vir ons wins sal wees (Fil. 1:21). Die gedagte aan dit wat voorlê spoor ons des te meer aan om op die smal pad te volhard tot die einde toe, die oog gevestig op Jesus, wat vir ons ‘n onbeskryflike en heerlike toekoms gaan uitwerk het (1 Kor. 2:9). Dan sal ons nie net die Here Jesus van aangesig tot aangesig sien nie, maar ook met ons geliefdes in die Here verenig wees.

Wat 'n wonderlike voorreg om Jesus te ken as metgesel en lewensmaat op ons aardse wandel. Om te weet dat nieteenstaande die aanvalle van die bose, Hy sal ons beskerm en ons deurdra. Hy is die Weg, die Waarheid en die Lewe. Ek wil nooit voor Hom staan met leë hande nie, maar met hande gevul met Goddelike Liefde soos wat Hy aan elkeen van ons gee.